Woensdag besluit die skoolhoof dat dit tyd is om die noodplan in te oefen. Ons is besig om te gesels oor vlieënde goeters en net nadat ek vir die kinders ‘n baie opwinde storie vertel oor hoe ‘n helikopter gesorg het dat my man se kar nie gesteel word nie, begin die klok lui. Ons is salig onbewus van die klok wat lui en lui en lui, want ons is so opgewonde oor allerhande verskillende helikopters! Na ‘n hele rukkie sê een van die kinders vir my: “Juffrou, die klok lui darem nou baie lank.” Toe eers besef ons… NOODPLAN! Inderhaas spring almal op om so gou as moontlik by die deur uit te kom. Ek en klein Christoffel sukkel om ‘n venster toe te maak en besluit later ons los maar die venster (ons weet mos dis net ‘n oefening). Hoe meer ek vir die kinders probeer kry om vinniger buitentoe te beweeg, hoe meer onthou hulle van al hulle interessante stories oor helikopters! Nadat ek al gekyk het dat die hele klas veilig is, hoor ek nog steeds so hier en daar iets van ‘n helikopter met ‘n lang neus of ‘n helikopter met ‘n skerp neus of ‘n helikopter met watter neus ookal!

Ons het die noodplanoefening oorleef! Ek weet egter nie of ons dit sal oorleef as daar regtig ‘n vuur is nie… Helikopters is darem net TE opwindend!

Advertisements