Gister is ek besig om Natuurwetenskap te gee. Nou kyk, om op ‘n Vrydag in die skool te wees is moeilik, maar om op ‘n Vrydag 12:00 in die skool te wees is nóg erger! So dit is dan seker verstaanbaar as dit meer interessant is om briefies te skryf as om te leer van voedselwebbe.

Danielle en Stephanie was té lekker besig met ‘n gesprek op ‘n folio-blad en toe kom Juffrou dit agter… ek kan dit mos nie net los nie… ek is te nuuskierig! En die res van die klas is net so nuuskierig! So ek lees toe maar die briewe… eers kry ek net een brief waarop daar staan: “wie?” Nou wonder ek wie is wie? Toe kom daar na ‘n rukkie nog ‘n opgevrommelde briefie uit… “Van wie hou jy?”
Die hele klas raak so opgewonde en almal wonder wie sal dit nou wees? Uiteindelik kom die laaste brief uit wat al ons vrae beantwoord! Danielle hou van Rikus en Stephanie hou van Marko… hopelik het hulle geleer dat dit nie ‘n goeie idee is om in diè juffrou se klas briefies te skryf nie…

(Gelukkig is Rikus en Marko nie in ons klas nie)

Advertisements