Vandag is ek besig om my heerlike koppie koffie te drink in die personeelkamer toe Cornél baie haastig in die kamer in hardloop en skree: “Juffrou, juffrou! Iemand het in juffrou se kar vas gehardloop! Hier is ‘n stuk van juffrou se brieklig!”

Ek vat die stukkie brieklig, en daar hardloop Cornél weg sonder enige verdere inligting… Ek weet nie wie nie en ek weet ook nie hóé nie…

Toe ek by my kar kom, dink ek net, daai kind moes vrek seer gekry het as my kar so lyk!

Julle sien, Pieter en Bernard het aan-aan gespeel. Bernard was aan en Pieter wou net kyk hoe ver Bernard van hom af is, so hy kyk toe nie waar hy hardloop nie en hy het in daardie oomblik ook bietjie vergeet dat hy by die onderwysers se parkeerterrein is… KADOEF! Juffrou se kar…

Ek hoop Pieter het so tussen die trane deur gehoor hoe ek vir hom gesê het dat hy regtig nie bekommerd hoef te wees nie en dat ek glad nie kwaad is vir hom nie.

Advertisements