Verlede Donderdag was dit fotodag. Ek gee gewoonlik vir die Graad 5’e Kuns en Kultuur op Donderdae, maar as gevolg van die fotodag was daar geen klasruiling nie. Die Graad 5’s se onderwyser is maar ‘n lui een en probeer gereeld om werk te vermy, so hy stuur toe ‘n kind om vir my te kom roep sodat ek vir hulle kan klas gee. Op daardie stadium was ek besig om ‘n les te gee vir twee 9-jariges en die twee kon seker die skok in my gesig sien oor die onderwyser wat alweer nie lus is om te werk nie.

Toe die Graad 5-boodskapper weg is, sê Lukas, een van die 9-jariges: “Juffrou, hulle moet besef dat juffrou nie heeldag sit en niks doen en net wag vir hulle om vir juffrou werk te gee nie.” Ek sê: “Ja, Lukas! Dit lyk my jy verstaan mooi!”

“Ja, juffrou! Hulle moet vir juffrou ten minste een week kennis gee as hulle wil hê juffrou moet enigiets doen, want juffrou is baie besig!” Lukas het so ‘n bietjie gesukkel om homself uit te druk en hy het deurmekaar geraak met al die groot woorde, so na ‘n lang gesukkel sê hy:

“Sjoe! Dit was nou ‘n klomp groot woorde! Maar juffrou verstaan darem wat ek probeer sê.”

Advertisements